Thursday 10 May 2012

Wat hy wil hê, vs. wat jy wil hê


Wat hy wil hê, is baie anders as wat jy wil hê ...


Raymond Hull het gesê: “Alle troues is gelukkig. Dis die saamwoon na die tyd wat al die moeilikheid veroorsaak.” En die grootste rede hiervoor? Ons verskil radikaal van mekaar! Dis waarom dit so moeilik is om te ruik wat hy wil hê. So, hier is ʼn bietjie hulp ...

Natuurlik koop jy nie vir jou man naellak en sykouse nie, want net so min as wat jy ’n saag of ’n grassnyer nodig het, wil jou man oor klere en skoene gesels.

Wat hy wil hê, is baie anders as wat jy wil hê. Al wat jy hoef te doen, is om ’n bietjie in ’n inkopiesentrum rond te staan. Die manne kyk gereedskap en tente, terwyl die vroue parfuum aanspuit, skoene aanpas en “oe” en “aa” oor ’n pragtige paar wighakskoene. 

Op dieselfde manier verskil julle emosionele behoeftes van mekaar. Diep in haar hart wil elke vrou hê dat haar man haar op allerhande maniere van sy liefde vir haar moet verseker en dat sy veilig by hom is. Mans, daarenteen, wil die wêreld oorwin, dit ’n beter plek maak en die held wees.

hier is wat jy moet weet van hom

Nou kom die vraag: Wat wil jou man hê? Wat is vir hom die belangrikste dinge om sy bors breed te hou en sy hart in jou hande? 

Sien raak wat hy doen

Een van ’n man se grootste behoeftes is om iets te doen wat buitengewoon is, wat ’n verskil maak en wat ander mense laat opkyk en kennis neem. God het die man geskep met ’n ingesteldheid op dinge wat hy moet dóén. Hy wil altyd ’n doel hê om te bereik ... ’n rekord om te oortref ... ’n unieke bydrae om te maak.

Hierdie behoefte is in werklikheid tweekantig. Aan die een kant het ’n man ’n ingeboude begeerte om werk te doen wat sinvol is. Aan die ander kant het hy ’n sterk behoefte dat ander mense moet kennis neem van wat hy doen. Dit laat hom voel dat sy lewe sinvol is. Wanneer jy hierdie diepste behoefte van ’n man verstaan, kan jy ook verstaan hoekom hy sekere dinge in sy huweliksverhouding soek. 

Sê dit!

Daar is twee maniere waarop ’n man wil hê dat sy vrou by sy werk betrokke moet wees. In die eerste plek moet sy vir hom ’n huis skep waar hy kan ontspan en kan wegkom van die druk van die werksomgewing. Sy moet hom as’t ware beskerm teen die stres van gebeure in en om die huis, insluitend die dinge wat die kinders doen. Die tweede manier het te make met haar houding teenoor sy werk. ’n Man wil weet wat sy vrou van sy werk en prestasie dink. Haar reaksie op wat hy doen en hoe hy presteer, is die maatstaf waaraan hy homself meet. Daar is immers diep binne hom die behoefte dat sy vrou sy grootste bewonderaar moet wees. 

Doen dit!

Hierdie behoefte by die man het veral te make met ontspanningsaktiwiteite. In sy werk moet hy die stryd alleen stry. Om sy vrou teen die spanning van sy werk te beskerm, sal hy liewer stilbly oor die druk wat hy ondervind. Hy sal die stres alleen dra. Maar wanneer hy ontspan, wil hy graag sy vrou aan sy sy hê. Dis juis in die saamdoen van dinge dat die man kameraadskap ervaar – nie, soos by ’n vrou, wanneer ’n mens gesels oor hoe jy voel nie. Want hy is ’n doener in murg en been. 

’n Man wil graag hê sy vrou moet daar langs hom wees wanneer hy sy oorwinnings behaal. Hy wil hê sy moet dit met hom deel, al sit sy net langs die baan om hande te klap wanneer hy wen. Hy het haar nodig om saam met hom in die ding te wees, selfs al moet hy haar somtyds dra.

Jy is mooi, wys dit!

Vir ’n vrou is die uiterlike voorkoms van ’n man nie so belangrik nie. Dis die mens as geheel in wie sy ’n maat vind en dis veral sy persoonlikheidseienskappe wat haar dol maak oor hom. Daarom kan ’n vrou gelukkig wees saam met ’n middeljarige man met ’n boepie en trots wees op haar bleskopman. ’n Man is egter heeltemal anders. Vir hom is die voorkoms van sy vrou baie belangrik. ’n Mooi vrou doen net iets aan ’n man se hormone en aan sy ego.

Vir ’n man is sy vrou se voorkoms iets wat ’n refleksie op hom werp omdat mense dikwels ’n man se sukses aan die voorkoms van sy vrou meet. Wanneer sy vrou mooi lyk, laat dit hom goed lyk. Dit laat hom goed voel omdat hy in staat was om hierdie mooi vrou te kry en gelukkig te hou. 

HET JY AL VIR JOU MAN GESÊ WAT JY NODIG HET? 

Natuurlik dink jy dat jou man op ’n magiese wyse weet wat jy nodig het. Verkeerd! Die meeste mans is totaal en al onnosel met gedagtes lees en skimpe vang. Soos ’n wyse man eendag gesê het: “Ons mans vang nie skimpe nie. Nie subtiele skimpe nie, nie duidelike skimpe nie, geen skimpe nie. Help ons!” So, suster, jy sal hom maar aan die hand moet vat en leer. 

Sê vir hom dis maklik

’n Vrou se grootste behoefte is liefde en geborgenheid. Daar is ’n paar maniere waarop ’n man hierdie veiligheid aan sy vrou kan gee, naamlik deur vir haar te wys – en te sê – dat hy lief is vir haar en deur tyd te maak om saam met haar te kuier. 

Saamwees is belangrik

Liefde is vir ’n vrou baie belangrik. Sy wil dit gereeld hoor en soek ’n liefdevolle atmosfeer waarin hy gereeld sê: “Dis lekker om jou hier by my te hê. Ek is lief vir jou. En ek wil niemand anders in jou plek hê nie.” Saamkuier is vir ’n vrou ’n noodsaaklike geleentheid om liefde en veiligheid te ervaar. 

Onthou, seks maak nie alles reg nie

Mans moet besef dat liefde en seks vir vroue glad nie sinoniem nie. Liefde is die emosionele atmosfeer waarbinne seks moet gebeur, maar dit gaan oor baie meer. ’n Vrou het spesifiek ’n behoefte daaraan dat ’n man gereeld en op baie maniere moet wys dat hy vir haar omgee omdat sy daaruit agterkom wat haar man vir haar voel. 

’n Vrou geniet dit wanneer haar man op ’n nie-seksuele manier aan haar raak. Wanneer ’n man sy vrou deur die loop van die dag ’n drukkie gee of net aan haar arm vat of hand aan hand met haar stap, sê dit vir haar: “Jy is vir my belangrik. Ek staan saam met jou in die lewe. Ek is trots op jou.”

No comments:

Post a Comment