Wednesday 1 June 2016

'n Man se verraad


My man vind die Here, neem ‘n besluit om Hom te volg en vir die eerste keer in die grootste gedeelte van my menswees, voel ek veilig.
Veilig dat my huwelik veilig is. Veilig dat my man die Here se aangesig sal soek wanneer groot besluite geneem moet word. Veilig dat wanneer hy besluite neem wat ek nie mee saamstem nie, ek tog sal onderdanig bly omdat ek in hom glo. Glo dat hy my belange altyd op die hart sal dra en my ten alle tye sal beskerm.
Elke keer wanneer ons in die kerk is, oor die Here gesels, by bidgroepe bymekaar kom, op aanbiddingskampe is, word my man vir my net mooier. Wanneer hy sy hande uitsteek na die Here en hom aanbid kan ek my oë nie van my man afhou nie. Dis sooo mooi. Ek is verlief daarop om te sien hoe verlief my man op die Here is. Hoe hy Hom aanroep en aanbid. Sulke oomblikke is in my geheue inge-ets en ek neem ‘n besluit dat wanneer donker wolke bokant ons dreig, ek dit sal oproep en daarin gaan staan totdat ek druppend vol van genade daaruit kan tree.
En toe ‘n donderstorm met geweld bokant my uitbars, onthou ek niks van my goeie voornemens nie en voel dit asof ‘n weerligstraal my van my voete af ruk.
My man het ‘n verhouding met ‘n ander vrou. ‘n Ouer vrou. Hoe gebeur dit? ‘n Ouer vrou? Ek het myself in ‘n maalkolk van vrae ingedink, totdat ek dronk geword het van al die heen en weer in my soeke na antwoorde. Was dit eerder van wyn – daaruit kan ek nog van nugter word en my vinger op druk.
Ek is vir die wolwe gegooi. Die verwoesting van sy verraad ruk my hart aan flarde. Hoe kon my mooie man wat die Here so liefhet, so afdwaal dat hy met ons, met my, kon dobbel?

‘n Ouer vrou? Die naakte waarheid is net te veel – ek besef ek het gefaal.
Ek is geweeg en te lig gevind. As vrou, as sy maat.
Ek het te besig geraak met my eie dinge en nie ag geslaan op die rooi ligte wat helder rooi flikker terwyl 'n storm aan't broei is nie. 
Hoe las jy iets wat gebreek het sonder blywende skade. Hoe droom mens weer van vooraf.
Ironies hoe mens vir jare aan iets bou en in enkele sekondes kan alles aan skerwe lé.
Ek moet uit hierdie donker gat uit kom. Ek moet erens asem skep, my longe vol suurstof trek en my hartkloppings stil…doef-doef is al wat ek in die doods-snikke van die nag hoor.
Doods-snikke. Ek wonder of ek in staat is om te glo iets kan uit die dood uit opgewek word – as jy nie eens besef het iets is dood nie.
Ek kry myself weer bakhand staan voor die Here. Verlee en verdwaald. Kaal gestroop van voorgee.
Met niks anders om aan te bied buiten ‘n gestroopte hart soos ‘n land na oestyd…
 
Ek rig my oë op na die berge…my hulp sal van die Here kom wat hemele en aarde gemaak het
dis my hoop
dis my geloof
dis my redding

1 comment:

  1. Ek is regtig so jammer. Ek hoop eintlik jy deel hierdie vanuit 'n ander se storie en dat dit nie regtig met jou gebeur het nie. M

    ReplyDelete