Monday 20 October 2014

Ons roeping

Sonder twyfel moet ons Jesus se lig en sout wees, dag en nag. Hy het ons as sy dissipels aangestel om goeie getuienis af te lê van sy goedheid en redding. Ons is die aroma van Christus in die wêreld. Ons versprei sy lieflike geur op elke plek waar ons kom, soos wat Paulus in 2 Korintiërs 2 skryf. Medelye, liefde en lewe — dit is ons soort taal, nie oordeel en dood nie.

“Compassion will cure more sins than condemnation” — So skryf Henry Ward Beecher. Inderdaad! Om mense te veroordeel, is om hulle af te skryf. Dis nie ons roeping nie. Ons is nie God se arrestasie-beamptes nie. Of godsdienstige vonnis-uitdelers en wetstoepassers nie. Ek weet party godsdienstiges blink goed uit hierin, maar dit is nie die roete wat Christus vir ons bestem het nie. Hy roep ons op tot medelye en empatie. Beteken dit ons is blind en doof vir ander se sondes? Nee, gladnie, maar ons stap saam met mense ’n pad van genade en herstel voor God. Ons stap en leef hulle in die Here se lig in, nie nog dieper in skuldgevoelens en verwyte in nie. Dit is in elk geval die Gees van God se werk om mense te oortuig van sonde en geregtigheid en oordeel, nie ons s’n nie. Ons roeping is om maar net Jesus se lig te laat skyn.

No comments:

Post a Comment