Die soeke van 'n onperfekte kind

Ek het 'n arend.  Iemand wat lank terug die soeke van my hart raakgesien het, haar vlerke om my gevou het en my geleer het wat Goddelike liefde is.

Wanneer ek terugkyk na die tyd wat ek onder haar vlerk geskuil het, wonder ek soms hoekom ons groot almagtige Vader dit so bestem dat ek, met soveel foute en nonsens, die geleentheid kon kry om onder vlerke wat so sterk is te mag skuil.  Sterk in leiding, geduld, liefde en geloof. 

Ek kry soms skaam dat met al die geleenthede vir geestelike groei, al die bemoediging, insette en tyd wat spandeer is, ek nie ontwikkel het in 'n kragtige geestelike toring wat lig gee aan 'n donker wêreld nie.

Inteendeel, ek kom agter dat ek soms huiwer om Yeshua se liefde met iemand te deel, omdat ek wonder of dit die regte geleentheid is.  Of self soms omdat ek wonder of daar nog enigsins van SY liefde binne-in my is.  Ek hoop dat mense die LIG in my sien, al hoor hulle dit nie altyd nie. 

En dan word ek weer herinner aan my aandeel in die land se road rage probleem, my ongeduld met my kinders, my onvermoeë om emosies te beheer, konflik wat ek verkeerd hanteer, en die onsekere seer in my kinders se oë wanneer ek onredelik raak.

Ek sal nooit die genade en liefde wat ek in my lewe ontvang het kan verdien nie.  Na al die geleenthede vir heling, na al die liefde wat HY so mildelik oor my uitgestort het, na al die vergifnis wat ek ontvang het, faal ek nogsteeds daarin om net eenvoudig 'n dienende kind van YHWH te wees.

Ek is 'n kind, dis iets wat jy is, en nie verdien nie.  Maar dienend - dis 'n keuse.  Ek wonder waar mense die tyd kry om te dien, en dan besef ek dat dit nie tyd is wat benodig word nie, maar liefde en deernis.

Toe ek jonk was het ek drome gehad van my ouer self wat op 'n filantropies wyse mense help, wat in liefde en onsaglike wysheid reageer.  Wat meer gee as wat ek neem, en minder verdien as wat ek bereid is om uit te deel.

Daardie droom is verwurg en versmoor deur foute wat ek gemaak het.  Iewers het ek meer begin neem as wat ek ooit gegee het, en ek het dit as my reg toegeien. 

Ek het die veiligheid van 'n sterk vlerk verlaat, deels uit die bewustheid dat ek self moet vlieg en deels uit wonde wat net nie wou ophou bloei terwyl ek skuil nie.

Ek vermoed dat ek soos die verlore 'dogter' is wat teruggekom het na haar pa toe, die gemesde kalf help opeet het, weer aanspraak gemaak het op 'n erfporsie, en dit weereens gaan uitfuif het in my eie selfsug en eie geregtigheid.

Ek wonder of Vader al ooit 'n kind gehad het wat so baie wonder oor kind-wees.  En elke keer wat ek gekonfronteer word met die gebrokenheid van verhoudings wat veronderstel was om onvoorwaardelik te wees, pak die skuld my kinderlike hart beet.  Sodat ek myself onder in 'n put vind en dink dat soos wat Josef aan slawe verkoop is, ek myself so pas aan satan verkoop het.

Vir iemand wat vir als in die lewe moes baklei en uit pure hardkoppigheid vir mense wou wys dat hulle my nie sou onder kry nie, is dit baie moeilik om te aanvaar dat jy 'Kind' is sonder om dit te verdien of sonder om dit perfek te wees.

Ek onthou die tyd wat ek gedoop is en onvoorwaardelik skoon en geborge gevoel het.  Ek onthou hoe HY my arend gestuur het om te help om my seer binne in die koue water van die Weskus af te spoel.

My arend het my hand al soveel keer vasgehou en soveel keer toegelaat dat my trane op haar skoot val. 

Ek probeer dieselfde vryheid terug kry deur op my kniee in my kamer te lê en toe te laat dat my trane op Sy voete val.  Maar ek dink nie dat ek by Sy voete uitkom nie, want my geloof is te wankelrig. 

Yeshua het vir die blinde man gesê dat hy sal ontvang in die mate van sy geloof.  Hy het vir 'n pa gesê dat sy seun lewendig sal word omdat hy GLO.  Hy het melaatses genees omdat hulle geglo het dat HY sou wou.

Ek wonder soms of ek nie by die poorte van Sy heiligdom staan en klop, maar ek glo nie dat dit vir my oopgemaak sal word nie. 

Ek mis Yeshua, my hele wese roep uit na hom.  My liggaam is dors na Sy liefde en my gees smag na SY vergifnis.  My hart is verdwaald tussen die uitdagings van die lewe en die roep van my siel.

Hoeveel keer het ek nie al terug gekom na die arend met die sterk vlerke nie, omdat ek weet dat sy baie verder as ek kan sien.  Die arend kan nie my hart red nie en die arend kan nie die poorte oopmaak nie.

Die arend wys die rigting na strome vol lewende waters.  Dis ek wat dit moet drink, bakhand op my kniee.

Oh where did I turn off onto a path of comfort to my broken self
Where did I loose the grip of His overwhelming love and gave way to the lie of self destruction.

HIS ways are marvelous and joyful.
HIS promises are rich in love and guiltless freedom.
My soul cries out to the touch of HIS hand

I will not find it,
but HE... HE will find me.

xoxox

 ~ Anoniem

Comments

Popular posts from this blog

The Dogwood Tree

Bible - Truths